Redakteursbrief
Meeste van ons streef na ‘n goeie lewe op verskeie vlakke – werk, gesondheid, geestelik en in ons verhoudings. Sou ons eksponensieel kon verbeter as ons die regte mentor kon kry om ons te help?
In sy boek ‘Tools of Titans’ skryf Tim Ferriss dat dit nie altyd gebeur nie. Hy het deur verskeie waarnemings en onderhoude met wêreldklas-kenners, wat mense help met fiksheid, gesondheid, besigheid of persoonlike groei, iets baie interessant gevind. As die persoon wat gehelp word, dit nie meer wil hê as wat die wêreldklas-kenner dit vir hulle wil hê nie, sal dit nie gebeur nie.
Innerlike dryfkrag en toewyding maak die verskil vir ware groei en positiewe verandering in ‘n persoon se lewe. Die mees suksesvolste mense het ‘n onverbiddelike toewyding aan hulle doelwitte en prioritiseer hulle dissiplines, roetines en ingesteldheid.
Wat as jy jou huwelik by hierdie lys byvoeg? Ons dink dikwels aan ons gesondheid of loopbaan en stel maklik doelwitte om te bereik. Maar ons huwelike gaan op auto-pilot aan. Nie dat ons die lekkerte en gemaklike kussing van ‘n huwelik moet wegneem nie, of uitermatige couple van die jaar doelwitte moet stel nie, maar dit kan ‘n besluit wees rondom byvoorbeeld konflikoplossings tegnieke. Of om ‘n berader te gaan sien om my kinderjare-bagasie vir eens en altyd uit te sorteer. Dalk is dit vir julle ‘n doelwit om meer kwaliteit tyd saam te spandeer of julle intieme lewe na ‘n volgende vlak te vat. Wat as jy innerlik besluit en jouself toewy om die beste man of vrou ooit te wees in ‘n huwelik? En ons praat van regtig ‘commit’. Hoe sal dit lyk in jou lewe?
Vir jou wat hierdie in Maand 6 lees, haal ek my hoed af. Min paartjies begin en hou vol. Jy is van daardie raar kwaliteit soort wat daad by die woord voeg. Hierdie program is soos ‘n mentor vir julle en as julle huweliksgeluk meer wil hê as wat ons dit vir julle wil hê, gaan dinge van hier klopdisselboom verloop.
Onthou – dit is nooit te laat om ‘n nuwe droom vir julle huwelik te droom nie. Nooit te laat vir ‘n volgende doelwit of avontuur nie.
Is daar iets wat in jou hart opkom as jy hierdie lees? Gaan skryf dit neer en praat daaroor met julle volgende date night!
Geniet Maand 6 – daar is uitstekende artikels wat jou dinge in ‘n heel ander lig gaan laat sien.
Liefde, lig en seën,
Liezel van der Merwe